Die Vlakte Marathon
Op Saterdag 22 November het die Suid-Kaap se wenner van ʼn marathon, Die Vlaktes, plaasgevind. Ons het die oggend 05:00 by Hoërskool Heidelberg weggespring waarna ons van Heidelberg af Witsand toe gehardloop het. Nes jy van die N2 afdraai op die Witsandpad tref jou ʼn oë ʼn bordjie wat sê “Witsand 34”. Dan besef jy dis nog ʼn lang pad wat voorlê.
Die eerste 15km van die marathon is by verre die moeilikste met ʼn paar bulte wat jy moet aanpak. Daarna is die pad redelik plat en word jy omring deur landerye van geel canola blommetjies, volstruise en skape. As jy ʼn wedloop soek waar jy jou kop bietjie kan laat gaan en nie te veel hoef te fokus nie, is hierdie definitief die een vir jou. Die pad is redelik reguit en jy kan nie regtig verkeerd gaan nie deur net reguit te hardloop nie.
Die waterpunte was verseker ʼn hoogtepunt van die marathon. Presies elke 3km kon jy jouself verfris met water, coke, energade, gebakte aartappels en selfs ʼn “shot” by die laaste stop. Die hele gemeenskap is ook ingespan met van die plaaslike ouetehuis tot besighede en gesinne wat elkeen hulle eie waterpunte beman het.
Die weer kon ook nie beter gewees het op hierdie dag nie. Alhoewel daar aanvanklik hoë temperature voorspel is het ons omtrent die hele eerste helfte van die marathon in digte mis gehardloop en die son wat op die laaste deel uitgekom het was net genoeg om jou te druk om bietjie vinniger te hardloop sodat jy by die huis kan uitkom.
Persoonlik was dit vir my ʼn baie lekker marathon gewees. Ek het my vorige marathontyd met omtrent 40 minute verbeter en geëindig met ʼn “PB” waaroor ek baie dankbaar was.
Vlaktes is definitief ʼn moet vir almal wat ʼn marathon soek waar hulle ʼn goeie kwalifiserende tyd kan kry vir Two Oceans of die Comrades. ʼn Makliker en lekkerder marathon sal jy nie sommer kry in die Wes-Kaap nie.
Pieter Visser