Die kort storie van die New York Marathon:

Dit is een van die, indien nie die grootste marathon in die wereld. Daar het 46795 mense van 118 lande klaargemaak waarvan 182 Suid-Afrikaners was. Dit is die bes georganiseerde wedloop wat ek al aan deelgeneem het en ek sal dit vir enige iemand aanbeveel. Dit was baie lekker.

IMG_4734

Die Lang Storie van die New York Marathon:

Die storie begin eintlik al in April 2011 toe ek gesien het dat die NY marathon die dag voor die werkswinkel is wat ek beplan het om by te woon naby New York. Die toeval was net te groot vir my om nie van die geleentheid gebruik te maak nie. NY was nog altyd vir my een van die plekke wat ek net moes sien en dus met een van my persoonlike anthems “I did it my way” in my hart is ek oppad na Frankie se “New York, New York”. Ek moet dalk ook sommer van die begin af se dat die NY Marathon nie heel bo-aan my “bucket list” van marathons is nie maar eerder die idee van ‘n groot City Marathon.

Nog ‘n confession wat ek moet maak is dat ek nou nie eintlik mentally vir die wedloop voorberei het nie en het dus die hele besigheid sonder enige vooropgestelde idees betree.

Die eerste ding wat mens van die wedloop moet weet is dat dit nie ‘n oggend affere is wat sommer net gou afgehandel moet word nie, oooo nee… hier is dit ‘n week ding. Daar is verskeie ander kort wedlope en events wat ek nie vooraf van geweet het nie (miskien moes ek maar bietjie voorberei het). Ek het die Donderdag al my nommer by die expo gaan haal. Die expo was heel goed soortgelyk aan Comrades sin. Vrydag oggend het ek vir ‘n ligte draffie in Central Park gegaan en is begroet met letterlik duisende ander hardlopers wat dieselfde idee gehad het. KYK! NY is ‘n besige plek met haastige gefokusde mense en vir NYC Marathon week is alles gegear vir die wedloop almal hol om in die spirit te kom paaie word toe gemaak, mense loop in die strate en kyk mekaar op en af wetende dat Sondag gaan ons saam iets doen wat miljoene ander mense jaloers op gaan wees.

Saterdag aand is dit die “Parade of Nations” wat Liesl my gelukkig van vertel het waar omtrent 50 atlete van elke land met ‘n bordjie en vlag in die peilvlak kan afstap met ‘n paar duisend mense wat vir jou cheer. Dit is die enigste geleentheid wat ek ooit sal he om soos ‘n olimpiese atleet te voel en dit was baie cool om deel daarvan te kon gewees het. Al wat jammer was, was dat van die amper 200 SA atlete was ons net so 30 wat deelgeneem het en alhoewel die reis agente van die parade weet het hulle nie die atlete ingelig nie. Dit is ook ‘n hele fancy dress petalje en so stap kiepie toe met sy SA vlaggie so groot soos ‘n A4 papier ook in die peilvlak af, ons vir jou Suid-Afrika.

Sondag, wedloop dag, of eerder amper nog Saterdag want ek moes so vroeg opstaan omdat ek die verkeerde ferry gekies het, wat my tot by die begin moet vat op Staten Island (weereens oplees sou gehelp het). Die ferry vertrek al 05h30 en ek moet vir amper ‘n uur met die Subway ry om betyds te wees. Alles loop soos klok-werk, die treine is optyd die ferries vertrek elke 15 min, van die ferry loop jy na ‘n hellse lang ry busse en jy loop sommer dadelik op die bus en daar gaat jy oppad Race Start Village toe. Mens kry die gevoel hulle het dat al voorheen gedoen. By die afklim plek jaag hulle mense soos skape aan, blou roete die kant toe, groen roete volgende afdraai, oranje tot by die einde. Onthou hierdie is haastige mense en dinge moet gebeur en jy sien die vrees in almal se oe, “ons gaan ver hol vandag”. Dan jy kom by die race village aan mense le in slaapsakke onder marque tente of enige plek wat droog is. By die refreshments kan jy verniet koffie, bagels en Gatorade kry. Ek het nou deur die blou village geloop ek het myself ge-orienteer ek is reg vir die groot event. Dit is 07h00. Die wedloop begin 09h40!

Ek is dankbaar dat die “corrals” se hekke al 08h20 oopmaak. Die hek gaan ook presies op tyd oop en ons hardloop in en mik vir ‘n porta-loo want hier pee jy nie in die bosse of teen ‘n boom nie (vir die wat wou geweet het en dink daar was seker ‘n duisend porta-loos by die race villages en nog soveel op die roete). 08h25, almal is in die corral (ek is in corral #1 agter die pros, weet nie lekker hoe dit gebeur het nie, ek is omsingel deur racing snakes). 08h55 ons beweeg as ‘n groep na die begin sowat 500m verder. 09h20, dinge begin finally momentum kry. Die “Star spangled banner” weergalm hier om ons die mense juig daar is net media waar jy kyk en die atlete pee gou vir oulaas net waar hulle staan (mans en vrouens). Met ‘n moerse ontploffing van ‘n kannon trek ons weg.

Die begin is heel weird jy trek weg net voor hierdie spectacular Verrazano Narrows Brug (dink dit is die langste kabel-span brug in die VSA) in relatiewe stilte. Ek dink teen daardie tyd was ek al so gewoond aan die agtergrond geraas van die verkeer dat die afwesigheid daarvan amper “eerie” of dalk eerder “ominous” was. Die pas is warm, die weer is perfek vir marathon hardloop. Ek wil konserwatief hardloop, maar mense bly by my verbykom, waar kom almal vandaan? Ek hol te vining…….ek kan dalk sub 3 hardloop, nee nee dit is te vinnig jy het nie genoeg geoefen nie, maar die roete is plat en daar is baie support.

Die roete en sy mense:

Die mense langs die pad is iets uit ‘n ander wereld. Die roete gaan deur die 5 boroughs van New York: Staten Island, Brooklyn, Queens, Bronx en Manhattan. Daar is geen werklike groot klimme nie (maar weereens ek moes maar bietjie gelees het). Die ondersteuning langs die pad is iets om te beleef en baie moelik om te beskryf. Daar is seker nie meer as 50m op die roete behalwe vir die brue waar daar nie mense langs die pad is om jou aan te moedig nie en op plekke was die mense 5-10 diep. Daar is meer as 130 bands wat langs die pad speel van rap tot rock tot selfs doedelsak.

Terug na die wedloop:

So jy kom van die Verrazano Narrows Brug af en betree Brooklyn en die mense gaan mal en maak amper inbraak op die kalmte wat jy op die brug ervaar het. Maar die energie dryf en moriveer jou, jy wil jou beste gee. In Lafayette avenue staan die mense dik in die mooi boom belaande straat. Dan skielik drop Brooklyn jou as jy deur die Ortodoks Joodse gebied in Williamsburg gaan waar mense vir jou staar gedress of dit dit 1930 is. Dit was die einde van Brooklyn.

Dan gaan jy oor die Pulaski brug, wat niks is om oor opgewonde te raak nie, net om begroet te word deur ‘n paar Marching bands en selfs ‘n paar Gospel kore. Queens done.

Dan oor die Queensboro brug, nog een van daardie ikooniese brue van NY, tot in Manhattan vir die eerste keer. Die ondersteunders staan bankvas daar is duisende mense, dit is oorverdowend 1st Avenue is ‘n lang reguit pad (±3.5myl) en die kuite is styf en ek voel hier kom moeilikheid maar ek byt vas die mense wil ‘n show sien.

Oor die Willis Avenue brug tot in die Bronx, net soos Queens was die deel maar kort en ek het die hele Yankee Stadium gemis. Bruce het ook hier skuifel-skuifel by my verby gekom en my ingelig sub 3h is op sy agenda, ek probeer by-bly maar nou begin die hammies ook trek, en ek sien my merker vir sub 3 stadig buite my bereik raak. Recalculate!, nuwe target, 3h10, dan kan ek die laaste paar myle of kilometers (teen die tyd is my somme en kop al so deurmekaar anyway) bietjie geniet. Queens agter die rug.

Ons hardloop op die onderstevlak van die Madison avenue brug oor. Dit is ook een van die cool brue. Ons is terug in Manhattan en ek voel dat ek gaan nie rustig kan hardloop nie, die skare is nou nog groter en skielik is daar ‘n bult (as ek maar net opgelees het!). Dit is amper 3 myl se steady klim op ou bene wat nou sommer in die algemeen begin protesteer. Ek moet hard werk en gaan ‘n arme siel verby wat sy rolstoel stadig teen die bult uitstoot. Ek sien central park! Nog net 2.2 myl…..wag ‘n bietjie dit is amper 4km ag nee…shit dit is nog blerrie ver man(later uitgewerk dit was darem net 3.5km). Ons hardloop deur die park en dan weer uit vir so stukkie en dan weer terug in die park vir die laaste 800m. Ek maak my vlaggie oop en ek “represent”, ek is anoniem tussen duisende mense wat saam met my klaarmaak. 3h8’37’’ 1923ste.

Die einde is nie die plek waar die pyn weggaan nie, dit is waar dit begin. Dit is dan eers dat jy agterkom hoeveel die mense en mede-atlete jou gedra het. Jou medalje word seremonieel om jou nek gehang deur ‘n teenie bopper wat nog nie sover met sy fiets gery het nie en almal kry ‘n recovery goody-bag met Gatorade, water, pretzels en natuurlik ‘n appel in. Jy word dan ook met ‘n space blanket toegevou en dit is dan asof jy in daardie oomblik afgesny word van die res van die wedloop en jy terugkeer na net jouself. Alleen met al jou pyne alles is verby en nou moet jy op wankelrige bene amper 2km tot by die UPS lorrie loop waar vanoggend jou warm klere gelos het.

Sover as roete aanbetref was die sites maar saai en se nie veel van New York nie behalwe dat daar baie diverse mense bly. Die hoogte punte van die roete vir my was die brue en die dele in Manhattan. Maar moet nie die wedloop kom doen vir die roete of om ‘n tyd te probeer hardloop nie kom doen dit saam met vriende. Dit is die wedloop met die meeste en mees opgewonde ondersteuners wat ek nog ooit gesien het. Dit was definitief ‘n hoogtepunt in my hardloop “loopbaan”.