Stellenbosch Atletiekklub was hierdie jaar weereens goed verteenwoordig by die 91ste Comrades Marathon. Atlete het vanjaar die af-wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban oor ‘n afstand van 89.2km aangedurf.
Die slagspreuk van hierdie jaar se Comrades was “Izokuthoba/ It will humble you” wat presies dui op die invloed wat die uitmergelende wedloop op elke deelnemer se lewe het. Altesaam 32 klublede het die wedloop binne die toegelate 12 uur voltooi. Die klublede het tussen hulle ses Bill Rowan-medaljes, 14 brons-medaljes en 12 Vic Clapham-medaljes verower. Die vinnigste klublid was Niki Steenkamp met ‘n tyd van 7h36 en 11 lede het hul eerste Comrades suksesvol voltooi.

Die Comrades atlete van die Stellenabosse Atletiekklub wat die moordende wedloop die afgelope naweek voltooi het, met die aantal medaljes tussen hakies, is voor (van links) Khanita Rhode (5), Charl Cilliers (2) en Resia Swart (10). Agter staan Niki Steenkamp (2), Cassiem Lindoor (2), Wiaan Beeton (3), Rezani Scholtz (1) en Zonia Scheffer (1).